Filippense 2
Afrikaans PWL
1As daar daarom vir julle enige vertroosting en versterking in eenheid met Die Gesalfde Een is; of as daar vólmaking van die verstand, wil en emosie met liefde is; of as daar gemeenskap met die Gees is; of as daar sagte omgee en bejammering is, 2maak my blydskap volledig deur een gedagte te hê; een liefde; een gees; een denke. 3Moet niks doen uit tweespalt of in leë eer en lof nie, maar in nederigheid van gedagte moet die een sy naaste hoër ag as homself. 4Moet ook nie elkeen vir sy eie dinge omgee nie, maar elkeen ook vir díe van sy naaste.

5Hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Die Gesalfde Een, Yeshua, is, 6Hy wat, terwyl Hy die afbeelding van God was, dit geen roof geag het om soos God te wees nie, 7maar Homself gestroop en die gestalte van ’n slaaf aangeneem het in die vorm van ’n mens en gevind is in die gedaante van ’n man: 8Hy het Homself verneder en was gehoorsaam tot die dood toe, die dood deur gekruisig te word. 9God het Hom daarom ook tot die hoogste plek opgelig en aan Hom die Karakter en Outorteit (Naam) gegee wat bo elke karakter en outoriteit (Naam) is 10sodat elke knie sal buig tot eer van die Karakter en Outoriteit (Naam)wat aan Yeshua gegee is, dié wat in die hemel en dié wat op die aarde en dié wat onder die aarde is 11en elke tong sal erken dat Yeshua, Die Gesalfde Een, יהוה is, tot eer, lof en aanbidding van God-die-Vader.

12Julle vir wie ek liefhet, soos julle altyd gehoorsaam was, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, meer as ooit, doen daarom die diens van julle lewe met vrees en bewing, 13want God werk versigtig in julle om beide te begeer asook om dit te doen waarna julle begeer.

14Doen alles sonder om te kla en sonder verdeeldheid 15sodat julle volmaak en onberispelik kan wees, as gereinigde kinders van God wat in ’n harde en verdraaide geslag leef, onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld, 16want julle staan in die plek van lewe vir hulle; vir my om oor te roem in die dag van Die Gesalfde Een, want ek het nie verniet gehardloop of vir niks gewerk nie, 17maar al word ek as ’n drankoffer uitgegooi oor julle offer en die diens van julle vertroue, verbly en verheug ek my saam met julle almal. 18Net so moet julle ook saam met my bly wees en julle verheug.

19Ek verwag, in eenheid met ons Meester, Yeshua, om Timotheos gou na julle te stuur sodat dit vir my ook verfrissend kan wees wanneer ek van julle hoor, 20want ek het niemand anders hier wat net soos ek ernstig omgee vir julle nie, 21want hulle soek almal hul eie belange, nie dié van Die Gesalfde Een, Yeshua nie. 22Die bewys van hiérdie een ken julle, dat hy, soos ’n kind by sy vader, saam met my in diens van die goeie boodskap is. 23Ek verwag om hom gou te stuur, sodra ek sien hoe dit met my sal gaan 24en ek vertrou op my Meester dat ek self ook gou na julle toe sal kom.

25Nou het ’n saak my genoodsaak om Epafroditos, my broer, medewerker en julle afgevaardigde en bedienaar van my behoefte, na julle toe te stuur 26omdat hy na julle almal verlang het en besorg was omdat julle gehoor het dat hy siek was, 27want hy was ook siek, naby die dood, maar God het vir hom omgegee en nie vir hom alleen nie, maar ook vir my sodat ek nie droefheid op droefheid sou hê nie. 28Ek het hom daarom gretiglik gestuur sodat julle hom kan sien en julle verbly en ek ’n bietjie sal rus. 29Ontvang hom daarom in יהוה in alle vreugde en hou sulke manne in hoë eer, 30want ter wille van die werk van Die Gesalfde Een het hy tot naby die dood gekom en sy lewe nie in ag geneem, om te voltooi wat julle kortgekom het in die dienslewering aan my, nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Philippians 1
Top of Page
Top of Page